Spinnekoppe: Familie Theraphosidae
Algemene naam: Bobbejaanspinnekoppe. Suid-Afrika beskik oor 'n ryk verskeidenheid bobbejaanspinnekoppe. Daar is agt genera en 44 spesies waarvan 35 endemies aan die streek is. Die spinnekop het 'n harige voorkoms asook kussinkies onder sy “pote” wat herinner aan die kleur en tekstuur van 'n bobbejaan se vinger, vandaar die algemene naam. Hierdie grondspinnekoppe bly meesal in hul gate en beweeg gewoonlik nie ver daarvan nie. Die meeste bobbejaanspinnekoppe is nagdiere en hulle sit en wag binne die ingang van hul gate op hul prooi. Hulle is karnivore en voed op 'n verskeidenheid ongewerweldes soos kewers, sprinkane, duisendpote, kakkerlakke, krieke asook ander spinnekoppe. Hulle is ook kannibalisties: die jonges eet mekaar en na paring eet die wyfies gereeld die mannetjies. Hulle word nogal oud en dit neem tot 10 jaar om volwassenheid te bereik. Bobbejaanspinnekoppe leef tussen 15 tot 20 jaar, terwyl sommige spinnekopspesies slegs vir een jaar leef. Dit is ook gedokumenteer dat wyfies meer as 30 jaar oud kan word. Daar is geen mediese bewyse dat bobbejaanspinnekopgif enige nadelige effek op die mens het nie. Voorkoms: skaars en bedreig. (Marita Beneke)
Hou die loper oor 'n foto vir die spesienaam; kliek op die foto vir meer detail oor die spesie.